Monday, November 02, 2009

Politiek in die garage

Lovey se dragtige lyf het al groter geword. Elke keer as ek haar sien was ek kwaad vir myself oor ek nie veearts toe was nie. Maar dis water onder die brug deur. Toe word dit langnaweek. Ons was oppad Willem Pretorius toe vir ‘n fotografiekongres. Sommer die hele gesin.
Saterdagoggend lui die foon. Ons getroue huishulp, Ouma Violet kondig aan: “Lovey het babas, sy lê onder die boom. Iemand moet kom help.” Drie oproepe na die bure later is die babas in die garage.
Om my en Arné is die kinders vreeslik opgewonde. Ons staar maar voor onsself uit. Skoonma merk dadelik op dat sy niks met Lovey se koms te doen gehad het nie. “Hierdie keer is ek onskuldig.” En sy glimlag met ‘n vonkel in die oog. Die probleem is nie die babas nie. Dis die getal. Eers het ek gedink Ouma Violet maak ‘n grap, maar toe oom Willem sê dat dit tien pragtige hondjies is, is ek sommer net uit die veld geslaan. Tien. Eers was die plot oorbevolk van katte, maar skielik was daar twaalf honde as mens die ma en ons ander hond inreken.
Ek dink die katte is net so verstom. Vir ‘n wyle het hulle die plot regeer, en skielik was hulle, soos Julius Malema sou sê ‘n defeated minority. En nou moet die nuwe honde-regime name kry. Jare gelede het pa die honde na nuusgebeure vernoem. Dus is dit maklik, daar is sommer ‘n paar maklike name: Zille, Zuma, Terror en De Lill. Ek wys hulle uit, en die kinders kyk my vies aan. Hulle wil eerder die name van filmkarakters gebruik. Volgens my is daar in alle geval baie fiksie in die politiek, en ek hou voet by stuk. Totdat ek een flagrante flater maak.
“En daai kleintjie noem ons Malema.” Nou ek het nie eers gesien Arné is naby nie, maar die volgende oomblik tuit my ore. “Dit doen jy nie. Daai arme hond het niks verkeerd gedoen nie. Jy gaan dit nie aan hom doen nie.” Die kinders kyk dankbaar na hulle ma, hulle weet immers wie wen al die rondtes tussen ma en pa. Ek stap toe maar druipstert weg. Dit was eintlik lekker om te dink dat bekende name soos Zuma en Zille my teen misdadigers sou beskerm. Nou is die doop van die honde in iemand anders se hande. En soos ek gevrees het is dit nou sulke vreemde name soos Suri en Bella wat binnekort my erf gaan bewandel en in hulle ma se hurkspore gaan help om alles te bemes.
Nou ja, ek gaan haal solank die graaf en begin myself sielkundig voorberei vir die aanslag op die tuin. Met die verkiesing agter die rug is daar net een ding waaroor ek wonder, en dit is hoe die katte voel omdat die honde daarin geslaag het om sommer oornag ‘n tweederde meerderheid te kry. Soos dinge ontwikkel glo ek sal ek al meer insig kry in wat met die politiek sou gebeur het, en juis daarom gaan ek saans, as almal slaap saggies uit, streel die hondjies en sê: “Lekker slaap Zuma, lekker slaap Zille, lekker slaap al julle politici.”
En dan gaan ek binnetoe en sluit die deur.

No comments: