Monday, November 02, 2009

Die eerste dag van die res van jou lewe

Sondagoggend.
As mens dink dat jy nie nodig het om kerk toe te gaan nie, dan het mens dit nodig teen die tyd dat die kinders gereed is vir kerk. Hoe verdwyn skoene en haarborsels so maklik deur die nag ? Hoe word dieselfde kinders wat jou Saterdagoggend met borrelende energie uit die bed kom boender het teen Sondagoggend so traag?
Gelukkig bly ons sommer naby aan die kerk, so ons stap sommer vinnig daarheen. Dus is daar darem nie die probleem van almal in die motor kry, parkeerplek kry, en al die ander klein jakkalsies nie.
Ons is ook gelukkig verby die ergste klagtestadium ten opsigte van Sondagskool, en ja, dankie tog, verby die uitmergelende sessies in die moederskamer.Uitmergelend veral as jou eie kind die besige een is, so besig dat geen mens eers onder gebed hulle oë kan toemaak nie. Deesdae is dit eintlik maklik om kerk toe te gaan. Dis nou as al die skoene gevind is, die ontbyt se laaste dele van die monde afgevee is, en ja, die kinders aan die Sondagskool toevertrou is.
Vir die eerste tien minute word mens net rustig na die oggendgejaag. Dan neem die predikant oor, en uiteindelik stap ons met nuwe geestelike moed terug huis-toe. Hierdie keer is Benno sonder skoene en ek moet hom abba – danksy ‘n geskeurde toonnael. Ons drentel gesels-gesels aan.
Die buurvrou stop langs ons. Haar kinders is al groot en uit die huis uit. Daar is trane in haar oë. “Julle neem my soveel jare terug, soveel herinneringe…ai.” Wanneer sy verder ry besef ek opeens. Hierdie is die wonderlikste oomblikke van my lewe. Ek moet pasop dat ek dit nie mis nie.
Ek lig Benno hoër op my rug. Arné en Anienie gesels oor die boekie wat Anienie vashou. Dit vra die vraag oor wat mens sal doen as jy net dertig dae oor het om te lewe. Voorop staan die subteks: “Vandag is die eerste dag van die res van jou lewe.”
Skielik ruik die lug vars, voel die lente nader, en is die oggend se dramas net deel van die wonder van dankbaar wees.
Waar jy ookal vandag is wanneer jy hierdie stukkie lees – wees dankbaar vir wat jy het, maak nie saak wat dit is nie – tyd gaan verby. .

No comments: