Friday, December 16, 2011

Oor filosofie en manipulasie


Sondagmiddag. Ek het geen behoefte om kruideniers te gaan koop nie. Tog, as die brood en melk op is, dan is dit op. Voorts is my skeerroom ook op, dus het ek nie veel van ‘n keuse nie. Arné en Benno ry saam. Benno het altyd ‘n strategie. Wanneer ons vertrek onderneem hy dat hy niks sal koop nie, maar wanneer ons by die winkel kom het hy oënskynlik vergeet en kyk hy ons met smekende spaniel-ogies aan. Soms vir lekkers en soms vir iets anders. Ten einde hierdie supermark-afpersing te vermy het ons ook al ‘n strategie. Arné spring vinnig uit, en ek en hy soek kwansuis parkering. Dan wag ons sommer vir mamma in die motor.
En hierdie rondte is presies dieselfde. Nadat ons geparkeer het wag ek en Benno in die Sondagmiddag somerson. So ‘n lekker luiheid hang mos Sondagmiddag oor ‘n mens. Asof jou hele liggaam weet dat daar bepaal is dat daar op die sewende dag gerus moet word. En in die Paradys was skeerroom nie eers nodig nie!
En dan kom Benno se vraag uit die bloute. “So Pappa,...” Hy aarsel effens. “Wat is die doel van mens se lewe?” Ek wens ewe skielik dat ek die ene is wat in die supermark was en nie in die spervuur nie. Wanneer Benno met so ‘n vraag kom, dan kom dit gewoonlik na deeglike oorweging sowel as met die natuurlike nuuskierigheid wat graad 3 bied. ‘n Nuuskierigheid wat nie sommer enige geblikte antwoord aanvaar nie.
Ek hink hierdie kant toe, dan daardie kant toe. Ek verpak die antwoord soos ek dit al dikwels van predikante, opleiers en sprekers gehoor het. Maar die verpakking bly tekortskiet. Uiteindelik kom dit daarop neer dat ons hier is om die wêreld ‘n beter plek te maak as wat dit was toe ons hier gebore is, om jou roeping uit te leef, jou talente te benut, jou aardse geleenthede te waardeer. Om vir ander mense iets te beteken. Soos wat ek antwoord knik Benno saam.
En dan, wanneer ek alles beantwoord het, en net dink dit was waaroor alles gegaan het, kom sy opvolgvraag: “Kan ons gougou by die speelgoedwinkel verbyry? Asseblief Pappa. Dit sal my lewe beter maak – dan leef jy so ‘n bietjie van jou doel in die lewe uit.
Nodeloos om te sê, ek het by die speelgoedwinkel verbygery. Nee, ek hoef niks te gekoop het nie, hy wou net rondkyk – jy sien, dis nie meer so lank voor Kersfees nie. En Benno wou net gaan sien wat alles beskikbaar is.
Soms is filosofie ‘n bedekte vorm van manipulasie.
En soms is dit goed om ‘n kort tydjie van ‘n lui Sondagmiddag met jou seuntjie in ‘n Speelgoedwinkel rond te stap.

Beginselvaste Besemmakers


Dit was Anienie wat voorgestel het dat ek hierdie stukkie oor Siobhan skryf. Anienie, my eie dogtertjie wat haar pad tussen maatjie-kwessies deur probeer vind met al die meisie-politiek wat graad ses kenmerk. Meisie-politiek wat Siobhan  met ‘n stil bravade trotseer, ten spyte van die klomp wat haar waarskynlik vermy as gevolg van haar groter bou, haar huislike omstandighede na haar ouers se egskeiding en haar doelgerigte vasbeslotenheid om haar eie pad deur die woud van sosiale slagstrikke oop te vee.
Sien, Siobhan  is nie een van daardie buierige maatjies wat jou elke dan en wan, sonder rede, in die steek laat of in die rug steek nie. Haar ja is ja, en haar nee is nee. En nee, sy veg nie vir punte by die gewildste kinders of onderwysers nie. Sy maak haar keuses en staan daarby. Soms dalk nie reg nie, maar wel dapper. Siobhan  het lankal reeds besef of besluit dat sy nie op die Leerderraad gaan wees nie, hoewel sy na my mening een van die beste leierskapskwaliteite het wat daar kan wees. Self-leierskap. Verstaan mooi, sy is nie ‘n rebel nie, sy is nie jammerlik oor haarself nie, maar sy het vaste selfgekose beginsels waarvolgens sy haar besluite neem.
So nou en dan, as sy kom kuier, vertel sy my van hulle motor wat gebreek het, en hoe hulle laatnag daarmee gesukkel het. Sy en haar ma. Sy het al vertel van hulle moeilike trek na ‘n ander huis met niemand om te help pak en dra nie. En tog, haar vertellinge is nie beswarend nie. Elke keer vertel sy dit met die opgewondenheid van ‘n avonturier. Dit was net nog uitdagings in ‘n doringpad waaroor sy soms dans, soms trippel, en verseker ook soms val.
Dit is wanneer Siobhan  kom kuier dat ons weet daar gaan nie bakleiery tussen Anien en Benno wees nie. Dit gebeur so dikwels wanneer beide maatjies kry. Dan word dit mos ‘n oorlog van seuns en dogters. Maar nie met Siobhan  nie. Sy het lankal besluit dat kinderbakleiery onnodig is, en deur bloot die gevegte te vermy en die seuns se aanslag te ignoreer, leer sy hulle die ou beginsels van “sticks and stones may break my bones, but I will not allow words to hurt me.” Dit is Siobhan  wat nie aarsel om vir ek of Arné met takies in die huis te help nie. En dit is Siobhan  wat my kinders herinner dat dit ‘n wonderlike voorreg is om iemand te hê wat jou met jou huiswerk kan help.
In ‘n wêreld waar skoolsukses dikwels aan akademiese prestasie of gewildheid gemeet word is dit Siobhan  wat, ten spyte van die feit dat sy haar nie aan daardie maatstawwe steur nie vir my kinders ‘n voorbeeld stel waarvoor sy dalk nie erkenning kry nie. Dalk wel, ek weet nie, ek ken haar nie so goed nie.
Tog, ek salueer haar, en ek gun haar ‘n besem om die dorings van die lewenspad mee weg te vee. Maar ek weet, as sy nie een kry nie, sal sy waarskynlik een maak met die takke en stokke tot haar beskikking.
En ek hoop sy leer my kinders ook van die krag van besemmakers eerder as die passiwiteit van hulle wat wag vir besems, of die skynpopulariteit van hulle vir wie die besems geredelik toeval.
Jy sien, ons gaan besemmakers al meer nodig kry.
Beginselvaste besemmakers.
Mense wat vir ons land ‘n nuwe pad na ‘n nuwe visie kan oopvee.

'n Nuwe Muilband vir die media?


Ek sal nooit vergeet hoe die lig eensklaps vir my opgegaan het nie. Ek was pas klaar met skool – en ja, een van die Boetman-generasie wat my militêre diensplig moes gaan doen. Ek het leer dril, pantserkarre bestuur, patserkarre beman en om ‘n groep pantserkarre te beheer. Daar was bedreigings op die grense en ek sou as dapper agtienjarige my familie, volk en vaderland gaan verdedig.
En toe, geleidelik begin dinge deursypel. Eers was daar die Vrye Weekblad koerant. In die Vrye Weekblad het ek week na week verneem van onbekende werklikhede wat binne my land plaasgevind het. Op regeringsvlak is baie van die dinge ontken. Tog, soos die tyd verbygegaan het, het sangers soos Johannes Kerkorrel en andere ons studente aangegryp met hulle “radikale” uitdaging van die destydse Nasionale Party regering.
Hoewel die gesprekke om die kaggelvure, kampvure en studentekuiervure al meer liberaal geraak het, was die eerste tekens van die regering se valse voorwendsels seker die duidelikste toe die pers gemuilband is. Daar was die keer toe PW Botha die SAUK geskakel het om ‘n insetsel uit die nuus te kry. Al meer koerante het leë spasies vertoon waar artikels moes wees. Dit was die draaipunt van ons land na ‘n nuwe demokrasie. Jy sien, toe was dit duidelik vir almal dat die regering met verkeerde dinge besig was! Waarom iets wegsteek?
En so het die nuwe demokrasie gelei tot nuwe geleenthede, nuwe wonderlike verhale en nuwe leiers. Ongelukkig ook vir nuwe korruptes, nuwe skarminkels, nuwe tenderpreneurs en nuwe soustreinpassassiers, maar die ergste – nuwe magsbeheptes met duister agendas.
En weer was Suid-Afrikaanse burgers geskok oor wat werklik besig was om te gebeur. Weer was die bewyse onomstootlik: Wanneer ‘n regering die media begin muilband is dit nie meer in die beste belang van landsburgers of demokrasie nie.
Vir jare het alle Suid-Afrikaners oor alle kleurgrense heen geveg teen die euwels van onderdrukking. Om die media te muilband is diefstal van ons reg om vry te wees. Geen Suid-Afrikaner kan dit toelaat nie. Die ANC se besluitneming oor mediavryheid is ‘n skrikwekkende herinnering aan ‘n tyd wat nooit moes gewees het nie. ‘n Tyd van leuns en verborge dade.
Ons is dit aan ons kinders en hulle kinders verskuldig dat hierdie wonderlike land aan die Suidpunt van Afrika nie deur magsbeheptes in trurat geplaas word nie.
Ons kan dit net nie bekostig nie!

Oor stories en afdraaipaadjies

Toe ons die eerste keer by Nieu Bethesda indraai is dit reeds laat skemer. ‘n Sagte motreën ritsel teen die motorruite vas en ons het pas die langer grondpad van Middelburg se kant af uitgery met weerligstrale wat in die verte kortstraalklief.
Met die eerste opslag vat Nieu Bethesda my gedagtewêreld terug na Clarens van jare gelede. Stofstrate, straatbrakke en mak katte dwing jou eenvoudig om stadiger te beweeg. En hoe nodig het ons dit nie om net so nou en dan in stofstrate tot stilstand te kom na die teergeraas van ‘n jaar se Rotteresies nie. In Nieu Bethesda is daar geen straatligte nie, maar ons gesin stap nadat die donker sy kombers oor die dorpie getrek het in die kwartmaanlig deur donker strate.
Benno groet iemand wat in die donker staan en rose natlei, en ons begin met Oom Louw gesels. Oom Louw gaan pluk ‘n roos uit sy tuin om vir ons te wys dat alle rose nie deesdae massaproduksie rose is nie. “Ruik gerus, hierdie rose ruik nog na rose.” En inderdaad is daar die kenmerkende reuk van die rose van my kinderdae. Vir die tweede keer in twee weke kom ek weer onder die indruk van die wonderkrag wat reuk het om mens na jou kinderdae te verplaas.
Die kinders is heeltemal tevrede om skermloos in die huisie te oornag. En die volgende oggend, na ‘n huisstoepontbyt by een van die ontbythuise besoek ons die Uilehuis. Die toeriste-aantreklikheid waarvoor Nieu Bethesda bekend geword het. Vir die kinders is die lekkerste egter om op ‘n fossieltoer en fossieluitwysings-ekspidisie te gaan. Die “tannie” wat hulle rondwys demonstreer met waterbottel in die hand hoe fossiele uigeken kan word, en te vinnig kom ons besoek tot ‘n einde. Hoewel die tyd gaan stilstaan het, het die tyd ook gevlieg. Ons wou nog donkiekar ry, ‘n paar ander draaie stap, en ja, net nog bietjie langer op die sendingstasie van stilword vertoef, maar ek moet daardie aand in Port Elizabeth wees. Tog, daar was die hartsbelofte van ons sal weer kom. Maar selfs ek het nie geweet hoe vinnig dit sou wees, en watter ongelooflike kersfees-ervaring ons tweede besoek sou meebring nie. Daaroor sal ek volgende keer meer vertel.
Intussen het my gedagtes gaan stilstaan by die Clarens van my kindertyd. Die kunstenaar wat in die grot gebly het, die stofstrate en straatkafee. Êrens het daardie Clarens plek gemaak vir die nuwe Clarens, ‘n wonderlike toerisme aantreklikheid, ‘n idilliese parkeerplek vir die gejaagde reisiger, maar tog, wat ons dalk vergeet, ‘n dorpie wat sy karakter deur jare ontwikkel het. ‘n Plek vol karakter en karakters. ‘n Plek vol stories wat, ek hoop, nooit sal verlore gaan nie. Jy sien, dis stories wat kersgeskenke is op ons lewensreis, dis stories wat karakter en karakters vorm, en dis stories wat maak dat toeriste terugkeer om meer te ontvang. Jy sien, stories ruik soos rose. Stories gee nie voor nie. Stories vat ons terug na die voetspore van ons kinderdae.
As jy hierdie vakansie reis, maak nie saak waarheen nie – sorg dat jy nie die stories van die plekke waar jy reis mis nie. Jou werklike rus lê nie in die reis nie. Dit lê in die stories wat jy optel en in jou sakkie van herinneringe plaas.
Laat die malles maar by die stories verbyjaag na hulle bestemming.
Dis die wat die stories vind wat weet dat elke afdraaipaadjie ook ‘n bestemming is.