Thursday, April 05, 2007

Herfsdag in Afrika

Sondagmiddag. Die son raak aan die water so tussen die herfsafwagtende populiere. Die water spat waar die kinders krappe vang. Nou en dan lig een ‘n stok triomfantlik met ‘n knypend-klouende krap omhoog. Die opgewonde omstaanders juig, ril en gil. Die grootmense eet gestadigd hulle braaivleis.
Tussen die tafels deur hardloop die langhaarhond om stokke op te tel wat die kinders met oorgawe gooi. Dan weer terug water toe. Die stok word in die water gegooi. Die hond agterna. Dan skud die hond die waterdruppels met spattende uitbundigheid. Die krapvangers lag terwyl die reënboogdruppels oor hulle dans.
Ek staan met my kamera. Êrens hier is ‘n sprokiesprentjie wat wag om te gebeur. Dit gaan vandag om tydsberekening en lig. Die prentjie is reeds geskilder. Om die waarheid te sê die prentjie is volmaak. Die uitdaging gaan wees om een van die volmaakte oomblikke vas te vang. Een van die dogtertjies se gelaatstrekke is half bekend. ‘n Vriendelike jong man staan nader. Hy groet. Hy is hulle oom. Dan begin die legkaart bymekaarval. Dis Ruben en Isabel se kinders. Isabel het jare gelede by my in die Engels klas gesit. Die jare van skoolhou kom sit op my skouer saam met die sonstrale deur die bome. Kinders lag in die spruit, maar in my geheueskatkis hoor ek weer die ware lewe van ‘n klaskamer. Dis mos die jeug. Hulle wat die pyle is waarmee na die toekoms geskiet word. Ons gesels. Uit die bloute verskyn ‘n porseleinpop feëtjiedogtertjie. Haar ma wakend gemaklik agterna. Elise. Dis asof verlede en hede in mekaar smelt.
Die wekkerwyser van boomskaduwees draai genadeloos. Weldrae pak ons op om te ry. Die porseleinpop huil, sy wil hier bly. Dis lekker. Dis lewe. Dis vreugde. Dis menswees. Maar almal moet terug.
In Bethlehem koop ons die Sondagkoerant. Sheldean se ma vertel hoe sy van die honger flou geword het by die skool, die week voor sy vermoor is. Thabo Mbeki wen weer wit geledere op deur harde verwysings na Blanke vrese – hy reken dis rassisme. ‘n Vermoorde boer se vrou staan met ‘n drie maande oue baba by die begrafnis van haar vermoorde man. Die blinde oupa huil.
En my hart breek Mens kan nie soveel vreugde en soveel seer in een dag absorbeer nie. Daardie aand kan ek nie slaap nie. Die prentjies wil nie wyk nie. Ek gaan haal my kamera. Laai die foto’s af op my rekenaar. Daar is een foto waarvoor ek nie kan wag nie. Dis ‘n seuntjie wat ‘n stok gooi vir die hond wat spring in die water. Die simbool van vreugde, onskuld en lewe.
Toe die foto op die skerm verskyn is daar ‘n oomblik se teleurstelling.
Die fokus is nie reg nie. Die lig was net te min. Ek kon nie die perfekte oomblik vasvang nie.
Miskien omdat dit nie so perfek was nie?

No comments: