Thursday, April 05, 2007

Ons land se stories bloei dood

Ek staan in die Spar. My bene word lam en my arms bewerig. Ek staar na die Sondagkoerant en ek voel hoe eienaardige emosie oor my vloei. Seer emosie. As my kinders nie hier was nie, het ek gehuil.
Twee jaar gelede staan ek voor die geleentheid van ‘n leeftyd. Ek is deel van ‘n groep van ons maatskappy wat na die groot storieverteller gaan luister. Ek is kinderlik opgewonde toe ons vroegoggend Bloemfontein verlaat. Oppad na Natal.
En wat ‘n belewenis.
Vroegoggend sit ons in bewolkte weer teen die helling van Isandlawana. Daar waar die Zoeloes die Britte ‘n les in oorlogvoering en dapperheid geleer het. Hy vertel die storie van die slag uit sy hart. Jy kan die perde letterlik hoor proes. Daar is die taalskildery van geweerskote wat klap. Die sjiep van assegaaie deur vel en been. Die uitroepe van oorwinning.
Hy kies nie kant nie.
Vir my word hy die simbool van alle hoop wat ons in die land het. Iemand wat na die geskiedenis kyk en geen oordeel fel nie. Hy vertel bloot stories. Een oogmerk: – ons moet almal trots wees op waar ons vandaan kom.
Ek begeer om stories te kan vertel soos hy. Ek skryf in vir my MA graad in geskiedenis want ek wil my kinders leer om dieselfde balans te handhaaf. Ek wil bewaar soos hy. My land se mense liefhê soos hy.
En nou staar ek na die Sondagkoerant.
David Rattray is dood.
Vermoor.
My kinders sal nooit na die wonderlikste storieverteller wat die land ooit gehad het kan luister nie. My begeerte was om my hele familie eendag te bring. Om hulle te laat verstaan waarom ek hoop het vir die land.
En daarom breek my hart voor ‘n Sondagkoerant.
Oor die hoop vir ‘n land wat doodbloei.
Week na week.
En my kinders weet nie wat met hulle pappa aangaan wat staan en huil voor ‘n koerant nie.
Want ek kan nie vir sulke klein kindertjies verduidelik dat hulle toekoms dag vir dag van hulle weggesteel word nie.
En dat hulle pa magteloos staan nie.

No comments: