Sunday, April 22, 2007

Ek groet 'n onnie duisend!

Ek het al vele kere oor onderwys en onderwysers geskryf in hierdie rubriek. Maar vandeesweek wil ek gesels oor iemand wat in statuur en persoonlikheid ‘n murg en been onderwyser in die Oos-Vrystaat was.
Ongeveer ses maande gelede stap ek in Bloemfontein deur Mimosa Mall toe ‘n bekende stem my naam roep. En daar staan hy. Hy lyk nie ‘n jaar ouer as toe ek hom 25 jaar gelede in die wetenskapklas voor my sien staan het nie.
Meneer Skippies van Rensburg.
Wat my egter meer as sy jeugdige voorkoms tref is die feit dat hy na 25 jaar my naam ken en navraag doen oor my broers en suster. Sulke onderwysers is skaars. Ongewoon. Toe ek onderwyser was het ek daarna gestreef om die kinders almal te onthou. Ek weet nie of dit my vroeë Altzheimers is, of die radikale veranderinge van die kinders nie, maar nou en dan skreeu iemand vir my “Hallo Meneer” van oorkant die pad, en kom gesels dan. Met babas op die heup en woelige kleuters.
G’n wonder ek herken nie almal nie, hulle het nie babas op die heup gehad toe ek vir hulle klas gegee het nie!
Maar Meneer Skippies was ‘n Meester. Nie net as onderwyser nie, maar ook as mens. En dit is waar dit saak maak.
Toe my sussie laas week laat weet dat Mnr Skippies oorlede is het ek baie stil gaan sit. Hartseer het oor my gekom omdat dit gevoel het of ‘n groot boom in die woud omgeval het. Maar daar was ook die wonderlike wete dat ek die voorreg gehad het om tyd in die skadu van daardie boom te kon spandeer.
En die boom het omgegee vir wie onder hom kom skadu vind het. Wat ‘n boom. Wat ‘n skaduwee!
Vir Mnr Skippies se familie wat agterbly weet ek daar is die hartseer van die wegval van ‘n besonderse man. Ek wil vir julle sterkte sê, maar ook dankie. Dankie dat julle hom wat vir julle geleen was met ons gedeel het.
Hy het ons almal geraak.
Soos net ‘n ware Meester kon.
Mag jou seile styf span, Oom Skippies. Ons gaan jou mis.

1 comment:

Charles Cock said...

Na jare...lees ek weer my ou skoolhoof Sam Pellissier se outobiografie:" Carpe Diem" (Glo jy sal die sentiment kan waardeer) en verstaan skielik soveel beter....dink ek moet dit vir my kinders se (toekomstige) skoolhoof leen. Nog so 'n meester...en ek bedoel dit in elke sin van die woord