Thursday, April 05, 2007

'n Brief vir Marie

Liewe Marie
Dis nou sestien jaar. Sestien jaar sedert ek daardie oggend in die koshuiskamer as jong onderwyser die nuus van die wonderwerk van jou geboorte gehoor het. En wat ‘n wonderwerk was dit nie!
Vanaf jou babadae het jy die lewe met die padkaart van verwondering en die padkos van ‘n glimlag aangedurf. Daar was jou hygende babastemmetjie as ek by julle kom kuier het: “Hum Ig, Hum Ig”, wat beteken het: “Hier is oom Ig.” Oor elke liewe kuiergas was jy opgewonde, want jou liefde vir mense straal al van kleins af soos sterflikkeringe na almal wat jou pad kruis.
Jy was skaars drie jaar oud toe jy gereeld alleen by Oupa Ben op die plaas gaan kuier het. Oppad het jy en Oupa met sy ou bakkie gestop en by tannie Lily se kafee die koerante en ‘n Magnum roomys gekoop. Oupa was die koning, jy sy prinses. En het die prinses lekker gekuier!
Oupa se telefoon was nooit op sy mikkie nie, want jy en jou poppe het al wat leef en beef speel-speel gebel. Die spore van jou speletjies het vasgepritt en uitgeknip die mure en die matte versier...Oupa het geglimlag.
Soos jy ook kon glimlag. Ek onthou nog hoe jy by ons kom kuier het, en in ‘n vreemde huis met die saligste glimlag kon wakkerword, na al die teddiebere rondom jou kyk en hulle groet: “Môle al julle Bele” (Môre al julle bere).
Ja en toe een oggend was dit skool toe vir jou. Jy was die borrelliedjie in die kleuterskoolklas en die lag op die laerskoolsaal. Jou vermoë om met kinders te werk, en met grootmense te gesels is verstommend. Jy het daardie balans waarna die meeste mense net streef. Ware talent van menswees.
Hierdie sestien geseënde jare het so vinnig verbygegaan. Geseënd omdat jy die lag, lewe en liefde van menswees in jou saamdra en met ons deel...Dankie vir die wonder van jou lewe...
En ja, eers was dit Oupa Ben se plaasfoon van die mikkie af, vandag is dit mamma se selfoonrekening. Eers was dit die peuter wat nie volsinne kon uitspreek nie, vandag is die SMS’e die wêreld vol. Dinge verander, maar jy bly standvastig van karakter.
En daarmee wil ons jou gelukwens. Dat jy na feëverhale kon luister en ‘n prinses kon bly, dat jy jou briesie van liefde deur die lewenshuise van Ooms, tannies, oumas, oupas, nefies, niggies en maats laat waai!
Geniet elke oomblik van jou verjaardag. En mag elk van die sestien liggies op jou verjaardagkoek die hoogtepunt van ‘n lewensjaar versinnebeeld. Want dit is waarom kersies daar is. Om te onthou dat God wonderlike oomblikke gee.
Baie Liefde
Oom Igno, Tannie Arné, Benno en Anien. O ja, en Ouma Barbara en haar katte!

No comments: