Sunday, February 10, 2008

Die verskil wat mens maak

Elke dag lees ek en skoonma die koerant. En ons blaai albei dikwels na die doodsberigte. Skoonma om te sien of hulle “in haar kampie skiet”. Dis haar idioom om te sien of daar enige van haar tydgenote afgesterf het. Ek, omdat dit my herinner hoe waardevol die lewe is.

En elke nou en dan tref ‘n skok mens. Soos verlede week. Toe ek Robbie se foto sien. Robbie met sy lewenslustige oë wat altyd opgewonde was om mens te sien. Robbie het vir die derde tennisspan gespeel, maar op ‘n stadium was sy uitslae nie wat dit moes wees nie. Dan moes Robbie tuisbly. Tog kon die span nie sonder hom nie. Gereeld moes ek met die skoolkombi tot agter die kafee ry om Robbie op te laai. Dan het hy sy lekker pot tennis gespeel, en kon ek hom daarna weer gaan aflaai, waar hy agter sy boeke kon sit en almal tevrede stel dat hy ‘n lang middag se werk gedoen het.

Baie mense sal sê dis oneties van ‘n onderwyser om dit te doen. ‘n Onderwyser nogal wat ‘n kind uit sy skoolwerk hou! Maar toe ek Robbie se foto sien, weet ek dat dit die regte ding was. Want Robbie het die kuns bemeester om voluit te leef, diensbaar te wees, en merendeels, om ander te laat deel in sy energie, sy vrolikheid en sy lag.

As daar ‘n kind sterf wat by my in die klas was, breek dit my hart. Want mens weet watter ongelooflike potensiaal daar in die jongmense skuil. En eers het ek met trane in my oë die gediggie gelees wat die gesin oor Robbie geskryf het. Sy gesin gaan hom verseker mis. Robbie was een van die kinders wat mens mal kon maak met sy lewenslus, maar altyd deel van sy energie by jou gelaat het. Sy entoesiasme en stralende geaardheid kon nie anders as om aansteeklik te wees nie.

En nou is Robbie weg.

‘n Koerantberig en ‘n foto. Ek dink weer oor die feit dat doodsberigte my leer oor die waarde van die lewe. Die tyd vlieg so vinnig. En dan wonder mens wat werklik saakmaak.

En jy kyk weer na Robbie.

En jy besef wat saakmaak is die verskil wat mens aan ander maak. Ek dink almal wat Robbie geken het is beter mense om dat hulle hom geken het. Sy energie is deel van ons herinneringe.

En daarom sal Robbie nooit heeltemal doodgaan nie.

En tog gaan ons almal hom vreeslik mis.

Ek betuig ook hiermee my simpatie aan Robbie se familie. ‘n Sonstraal het agter die horison verdwyn, maar die warmte bly. Ek hoop dit troos.

No comments: