Sunday, February 10, 2008

Topvertraagde katte en skoonma se oordeel

My suster se skenking was ongevraagd en onverdiend. Twee katte. “Die kinders sal so lekker speel.” Dit was ‘n onnodige toevoeging tot my huis waar mense reeds op die vloer moet sit omdat die katte reken dat die stoele aan hulle en skoonma behoort. Maar mens mag nie ‘n gegewe kat in die bek kyk nie. So reken skoonma.

Die twee nuwe katte sou weldra name kry wat uitstekend by hulle persoonlikhede pas. Ek weet, want ek het die name gegee. Topvertraag nommer 1 en Topvertraag nommer 2. Dis miskien nie oorspronklike name nie, maar dis baie beskrywend.

Hulle dra muise aan, en wag vir skoonma om dit te eet. Sy weier egter. Maar daar mag ook nie met die katte geraas word nie. Hulle is mos heiliger op my plot as die koeie in Indië. Hulle duik en spring agter onskuldige voëls aan en laat nou en dan ‘n spul vere in die sitkamer. Nie genoeg om ‘n kussing te stop nie, maar genoeg om tot ‘n wrewelrige opruimingsessie te lei. Snaaks as daar opgeruim moet word verdwyn almal – ouma, die katte, die kinders... En ek ruim op, maar sonder enige opgeruimdheid. Ek dink dit het iets met Adam te doen – in die sweet van jou aanskyn sal jy katte versorg.

Alles was hanteerbaar, maar die naamsverandering het my die finale nekslag toegedien. Toe ek weer hoor het skoonma en die kinders die katte se nuwe name afgekort. Skielik is hulle nie meer Topvertraag nommer 1 en Topvertraag nommer 2 nie. Hulle is Nommer 1 en Nommer 2. As’t ware die regeerder en adjunk-regeerder van die huis. Ek belê ‘n huisvergadering. Niemand kan sommer net die pa van die huis se gesag ondermyn nie. Aikôna.

Totdat die waarheid seëvier. Of dan skoonma se waarheid. Wie is in werklikheid nommer 1 en nommer 2? In haar opinie die katte. “Kyk dan nou – hulle is broodwinners, versorgers, te pragtig...” Nommer 1 sit en spin krulstert op haar skoot. Sy pruil haar mond. En kyk met oorwinning in haar oë na my.’n Kyk wat sê: “Jy is nie die baas van die huis nie. Jy moet net sorg dat dit opgeruim is.”

En ek kyk na die spulletjie wat voor my sit, en ek weet ek het twee pligte. Die een is om op te ruim. Die ander is om opgeruimd te wees. Want as ek nie lig loop nie gee skoonma vir almal nommers.

En ek weet wat ek gaan kry – want ek kan tel – Daar is 2 katte, skoonma, 2 kinders en Arné. Dus ses.

Ek gaan nommer 7 wees.

En as ek reg onthou, is dit die nommer van Maljan se donkie in die Jopie Adam reeks van jare gelede.

Nou swyg ek.

En bly naamloos.

No comments: