Sunday, February 10, 2008

Die wieke van tyd

As daar een ding is wat ek wens my ouers my geleer het, is dit dat ‘n jaar bitter kort is. Jaar na jaar vind ek my in die geselskap van die “jinne maar die tyd vlieg” brigade. En ek is een van hulle. So ek sê sommer reguit, “hierdie jaar het vinniger verbygegaan as enige ander jaar”. Al weet ek dat ek jok.

Miskien is die spoed waarmee tyd wegvlieg nie so ‘n vreemde verskynsel nie. Miskien moet ons weet die tyd vlieg. Vinnig. Dalk sal dit ons meer dringendheid gee. Om voluit te lewe. Terwyl ek hierdie gedeelte skryf is die langste dag van die jaar pas verby. Die kinders is later as gewoonlik bed toe, want hulle is opgewonde oor kersdag wat kom. Die langste dag was inderdaad ‘n oogwink. Vir hulle was dit ‘n dag soos enige ander. Vir my was dit anders.

Ek het in die laaste paar jaar die brug gekruis van hulle wat wens die lewe kan nog bied, na die geledere van hulle wat wens dat die verlede nie so vinnig deel geword het van my immerverlengende lewensverhaal nie. Die ander dag was ek ‘n kind langs die kersboom – nou’s ek Kersvader. Sonder ‘n kussing vir ‘n boepens en die eie hare staan ook al nader aan silwer. En ek geniet dit. Al reken skoonma ek moet dringend begin maagoefeninge doen, voordat die kar se lugsakke eendag uitskiet as ek hoes!

Elke keer as ek na my kinders kyk hoop ek hulle waardeer elke wonderwerk wat voor hulle oopgaan. Anienie wat hierdie jaar tot so ‘n mate leer lees het dat sy elke aand met ‘n boekie in die bed klim. Benno vir wie die werf skielik van ‘n dinosaur-opgraweplek na ‘n insekte en padda-paradys verander het. Elke dag bied die lewe meer geleenthede. En as ek na hulle kyk, weet ek dat ek die verantwoordelikheid het om 2008 te omarm met die oë van ‘n kind. 2007 Was ‘n skoenlapper wat op die wieke van tyd weggefladder het. En so sal 2008, en elke jaar wat volg. Want daar bly net soveel minute in ‘n uur, soveel uur in ‘n dag, soveel dae in ‘n week en soveel weke in ‘n jaar.

En teen die tyd weet ons die tyd vlieg. Dis wat dit so kosbaar maak. Die vlerke van die tyd het een doel – om ons na ‘n beter, meer lagkapperjolvolle lewe te lei – al wat ons moet doen is om die saad van tyd te neem en daarmee die bome van ons lewens te laat groei.

En as bonus vir 2008 het ons ‘n ekstra dag!
Een dag waarop ek dalk maagoefeninge kan doen.

No comments: