Sunday, February 10, 2008

Wie onthou die lammervanger?

En toe is die vakansie verby. Die ene wat lank gelyk het, kort gevoel het en soos mis voor die son verdwyn het.

Benno is die laaste dae van die vakansie kleuterbeswaard. Hy gaan nou eers graad R toe maar sien geen rede vir skool nie. Sy logika is onweerlegbaar:

“Pappa, skool is ‘n nare plek waar mammas en pappas hulle kinders aflaai en dan lank daar los. Hoekom doen hulle dit?”

En ek weet nie waar om te begin verduidelik nie.Terwyl ek nog dink kom die volgende sarsie kleuterlogika-artellerie:

“Julle kan vir my verjaardag net een persent gee. Ek hoef nie skool toe te gaan nie. Dit sal nie eers geld kos nie.” Ek besef dat die arme man se skoolloopbaan nog nie eers begin het nie, en dat hy anti-depressante sal moet gebruik as hy hoor hy het nog meer as twaalf jaar van aflaaiende ouers voor!

Dis op hierdie stadium dat Anien met al die wysheid van ‘n nuwe graad 3 inval.

“Ja pappa, ek hoef ook nie meer skool toe te gaan nie. Ek kan al lees en skryf.” Ek probeer dink wat my ouers sou antwoord, maar ek onthou net lang stories van koue wintersoggende en donkiekarre en hoe dankbaar mens was vir ‘n ou bietjie beesmis om die kaalvoete in warm te maak..., maar dit was pa hulle se stories. My stories was ongelukkig nie so dramaties nie. En toe kom daar een storie terug. Een wat altyd gewerk het. Ek wonder wie onthou nog die nare bedreiging. Toe laat waai ek maar.

“Kinders, pappa verstaan dat julle nie wil skool-toe nie. Pappa was self ook nie altyd lus vir skool nie. Maar die lammervanger...” Ek verhef my stem dramaties. “Hy kom vang kinders wat nie skool-toe gaan nie. En dan vat hy hulle weg”. Vir ‘n oomblik slaan ek self hoendervleis uit toe ek net praat van die lammervanger... Ma het my menigmale van die nare ding vertel, en dit wyk maar nie uit mens se onderbewussyn nie!

Hulle oë rek groot. In my opinie is die gesprek afgesluit. My antwoorde was nie opvoedkundig korrek nie. Maar ek is nou lank genoeg ‘n ouer om te weet rus en vrede in die huis is dikwels meer werd as opvoeding. Trots gaan ek later die aand rus. Die kinders sal môre maklik opstaan vir skool.

Drie uur daardie oggend skreeu Benno angswekkend. Hy het van die lammervanger gedroom. Ek sit lank by hom. Toe hy uiteindelik aan die slaap raak is ek gedaan. En toe die wekker afgaan sien ek glad nie kans vir werk nie. Ek sukkel swaar regop. En ek weet ek het nie ‘n keuse nie – werk toe moet ek gaan.

Anders kom haal die lammervanger my.

No comments: