Sunday, February 10, 2008

Kinderkuns en kleurvolle lewens

Ons was nou al ‘n paar keer by Oliewenhuis se kunsgalery. Veral Sondagmiddae kan mens op die groot grasperk piekniek hou, terwyl die kinders balle rondskop. Aan die ander kant is ‘n lekker restaurant waar mens kan koffie en koek eet terwyl die kinders mallemeule ry.

En binne die gebou is die kuns. Die uitstallings verander gereeld. Maar een ding wat nie verander nie, of so voel dit vir my, is die feit dat die kuns so swaar is. Sulke abstrakte beelde of dikwels swart en wit foto’s. Swaar. Donker. Morbied selfs.

En dan moet mens nog die kinders stil hou ook. “Sjjt, dis ‘n galery...”

Soms stap ek nie eers deur die galery nie, dis net te veeleisend. Sleep sommer reguit om, betaal die mallemeule kaartjies en gaan drink ‘n koppie koffie.

Sondag is ons toe weer daar.

En die uitstalling is verrassend.

Kinderkuns.

Lekker kleurvolle oranje-geel en rooi. Helder! Dit wissel van gewone spatsels tot ongelooflike realistiese beelde. ‘n Dogtertjie met haar perd. ‘n Seuntjie se fiets. Gunstelingplekke. Maats. Die temas is kinderlik naïef .

En net daar stop my gedagtegang.

Waarom moet die grootmenskuns so swaar en morbied wees. “Daar is te min liedjies wat vals gesing word”, het my pa ons geleer. “Maak nie saak hoe mens sing nie. Sing net!” Ek dink ook aan sy woorde – “Ons het meer ‘slegte’ kuns nodig – want slegte kuns is goeie kuns. Hoewel die wêreld dit nie vir miljoene verkoop nie, is ‘n kleuter se lomp handjie verspatsels mos baie mooier as enige iets anders.”

Pa was reg. Soggens het hy in die motor gesing terwyl ons skool-toe ry. Dikwels het hy gefluit. Daar was nie selfone om mee te praat of waarop ons as kinders kon Mixit nie. Daar was die wete dat ons almal saam iewers heen oppad is, die wete dat enige een maar kon saamsing – al was ons vals. Die wete dat kind-wees oor kleurvolheid gaan.

En dit was lekker.

Daarom mag ons nooit vergeet dat alhoewel ons grootmense is, ons steeds kinders van die Skepping is.

En daarom mag ons lag, gesels, sing, en kleurvolle stralende kuns uitstal. Deur met passie te glo in alles wat vir ons mooi is. Soos vriende, perde, lekker plekke, en alles waarvan ons hou.

Dis ons goeie reg.

Meer nog. Dis ons plig.

Want die kinders kyk vir ons!

No comments: