Thursday, July 03, 2008

Waar is die magtige manne?

Vanoggend wag ek vir ‘n storie om te kom. Iets lekker om hier neer te skryf. Maar die storie wil nie kom nie. En ek wag. Vadersdag lê voor, Jeugdag lê voor. Die Mighty Men konferensie is verby. En ek wag. En ek dink. En ek weet mens begin nie ‘n sin met en nie. En ek wonder daaroor.

Toe die storie kom is dit anders as wat ek wou hoor. Hier by my skyn die son warm, maar die winter gesels winderig en maak sy stem snerpend duidelik. Soos in die lewe - Waar die warm oppervlak dikwels die skrilwind van die winter wegsteek. Soos in die storie, die storie wat ek nie wou hoor nie:

Hulle was ‘n pragtige paartjie. Sy was klein en fyn. Hy was sterk, bruingebrand en fiks. Toe hulle begin uitgaan was sy opgewonde. Daar was die skoenlappers van hoop wat opgewonde in haar hart kom nesmaak het. En die gefladder van hulle vlerkies het haar hart vinniger laat klop elke keer dat sy hom sien.

En sy het by hom gaan bly.

Anders as in die feëverhale was hy nie lelik van aansien met mooi van binne nie. Sy aantreklikheid het die geweld wat in sy gemoed geskuil het versteek. Totdat hulle alleen was. Sy vuiste was hard. Sy Skoene ook. Teen haar maermerries het die blou kolle agter donkerder sykouse weggekruip. Haar moue was lank, haar arms seer. Soms haar oë ook. Dan het sy maar weggekruip tot die maskara die letsels kon wegsteek.

Toe ek die storie hoor wil ek naar word van woede. Daar is te veel sulke stories. En geen mens verdien om die slagoffer van so ‘n storie te word nie, veral nie ons vrouens en kinders nie. Dan beteken dit daar is geen mighty men nie, dit beteken jeugdag is tydmors, want ons kinders lei. Waarom is daar Vadersdag as die Vaders nie altyd is waar hulle moet wees nie? En nie wil hoor dat ons Vader ‘n Vader van liefde is nie?

Die storie het my verander.

Ek wil as pa seker maak dat my kinders nooit slagoffers is nie, eerder deelnemers en ondersteuners. As volwassene wil ek vir ons jeug leer om verdraagsaam te wees. En as man in Suid-Afrika wil ek vir elke man verduidelik dat Mighty men nie outokrate en geweldenaars is nie, maar manne wat met teerheid, liefde en simpatie omgee vir hulle wat kleiner en swakker as ons is.

Kom ons neem ons verantwoordelikheid as mans en pa’s op.

Die verantwoordelikheid om vir liefde, teerheid, sagtheid en omgee weer ‘n regmatige plekkie in die son te gee.

En die winterwind waai koud.

No comments: