Monday, July 07, 2008

Slae oor sokker

Verlede keer het ek gesels oor die pak slae wat in goedertrou sagter gemaak is. Dit danksy Lida van Zyl wat gevra het dat ek gerus meer skoolherinneringe kan deel.
Nou ja, vandag gesels ek graag oor een pak slae waaroor ek geensins trots is nie, maar dit het aan my so ‘n reputasie besorg dat ek vir etlike jare net stil moes word, dan het die klas voor my angstig stil en regop gesit.

In my eerste jaar as jong onderwyser eindig ek met die matriekklas waarin onder andere Stoefies van Graan, Eben Bradfield en Attie Kruger is. ‘n Dekselse oulike klas – met net sulke oulike kinders. Saam met hulle was Riana Louw – een van die beste tennisspeelsters wat die skool ooit opgelewer het. Op een goeie dag is hierdie klas in ‘n te gesellige bui vir Pygmalion.

Hoe meer ek lees, hoe meer rumoer die klas. Nou ja, met die eindeksamen voor die hand is my senuwees ook nie sterk nie. Toe ek sien my humeur begin ontvlam, doen ek die beste moontlike ding. Ek pak my boeke bymekaar en stap af na Moeks (mevrou Grobler) se biblioteek toe – net om te herstel. Ek het altyd geweet mens neem nooit die roede op as jy kwaad is nie.

Net mooi afgekoel na die stappie kyk ek by die biblioteekvenster uit – en daar speel genoemde vier leerlinge sokker met ‘n opgefrommelde koerant voor die klas. My eerste besef was dat as Mnr Strydom, die destydse hoof by Voortrekker hulle moes sien, was my dae getel – ons moes streng dissipline handhaaf en daar was geen verskoning vir ‘n onderwyser om nie by sy klas te wees nie. Veral ‘n jong nuwe Engels onderwyser enkele weke voor die eindeksamen.

Toe ek ontplof brul my stem van onder die trappe af dat elke klas dit kan hoor. Ek storm terug klas toe. Rottangloos. Net anderkant die trappe van my klas, was die klas van Martin van Reenen (alombekend as Han-han). Nou Martin het ‘n ongelooflike reputasie gehad. Hy het nie nonsens geduld nie, en was waarskynlik ten spyte van die feit dat hy bitterlik kwaad kon word, een van die beste onderwysers waarmee ek ooit saamgewerk het.

Terwyl ek opstorm na my klas toe besef ek Martin sal ‘n rottang hê. Steeds bulderend storm ek na Martin se klas. Hy staan reeds gereed met ‘n rottang. Ek moet sê hy skuil selfs effens agter die rottang toe hy dit aan my oorhandig. Die vier sokkerspelers staan wasbleek. Ek beveel die drie seuns om na die boonste badkamers te gaan. Tot vandag voel ek sleg oor die feit dat ek ook kliphard vir Riana gesê het om klas toe te gaan. Hopelik het sy my al vergewe.

Die eerste wat moet buk is Eben. Nou ja, ek was nie behendig met ‘n rottang nie, maar ek het my voorgeneem as ek ooit moet slaan sal ek so slaan dat ek nie sommer weer sal hoef te slaan nie. ‘n Reputasie kan goed werk. Die rottang krul rondom Eben se boude. Sy hande wou half keer en ‘n blou haal verskyn barstens op sy arm. Dis toe dat Attie besluit, vandag waag hy nie sy lewe nie. Toe ek hom beveel om te buk, bly hy regop. Hy wil nie.

En toe die woorde wat ek nooit sal vergeet nie. Ou Stoefies kyk na Attie. Smeking in sy stem. “Ag liewe Hemeltjie Attie, buk asseblief, anders slaan hy ons nog dood vandag.”
Attie het gebuk. Die pak slae is gegee. Ek het na Mnr Strydom se kantoor gegaan en gesê dat ek hulle geslaan het. Met die adrenalien nog warm het ek hom sommer voorgelig dat as enige ouer bel sou ek met hulle wou gesels. Mnr Strydom het die hele insident uitnemend hanteer. Hy het my uitgeluister en kennis geneem. Niks het verder gebeur nie.

Die klas wat daarna by my was het soos muise gesit. Hulle was die periode tevore by Han-han. Hulle het die storie versprei. En die storie het reputasie geword. En elke keer as ek gelyk het of ek aan ‘n rottang dink het die klasse voor my na mekaar gekyk. Daar was iets soos wedersydse waarskuwing in hulle oë. Nooit vrees nie. Net die (valse) wete dat hierdie man al amper iemand doodgeslaan het.
Ek het die storie sien versprei. Wat kan mens doen? Tog was dit nooit weer nodig om te skreeu of raas nie. Ek het elke klas geniet. En ek hoop ook die kinders.

Soms is ‘n slegte reputasie nie so slegte ding nie.

2 comments:

Anonymous said...

Igno,

Ek onthou daai dag nog goed, en ons WAS wit geskrik!!
Ek geniet jou blog baie maar moet nou gaan slaap!! Sal weer kontak maak.
Groete en hoop dit gaan goed.
Hermi Wildenboer (Avenant)

Igno van Niekerk said...

Hallo Hermi!
Lekker om van jou te hoor!
Gaan dit nog goed?
Groete
Igno