Thursday, July 03, 2008

Hartseer oor 'n vreemde vrou

Om rugby te verloor is nooit lekker nie. Mens stap saam met verwese vriende by die stadion uit, kyk na verwese mede-toeskouers, sowel as opgewonde ondersteuners van die opposisie. Ja, mens voel sommer teneergedruk. Veral as jy vir die Vrystaat skreeu. Want dan verloor mens altyd hier op die einde. Of so voel dit. Teen alles. Selfs teen die skeidsregter wat nie kan sien as iemand die bal myle vorentoe gooi nie.

Ek glo daar moet tugverhore vir onnosele skeidsregterskaap ( ja party is skape) wees. Spelers word maklik gestraf en beboet, maar blinde skeidsregters kry een of twee pakke slae in die koerante – maar die skade is dan reeds gedoen.

En Saterdag sit ons toe weer op die paviljoen. Die keer was dit nie eers vir die skeidsregter nodig om ons in te loop nie. Die Blues was net te goed. Maar die hoop beskaam mos nie. Tot op die einde wag ek al vir die keer wat die Cheetahs soos met die onlangse Curriebeker finaal in Pretoria (so drie jaar terug), skielik ‘n op en wakker einde gaan beleef.

Helaas.

Ek stap maar elke keer bedroë weg. Soos ook hierdie Saterdag. En toe gebeur iets veel erger as om die rugby te verloor. ‘n Man stap verby. Sy vrou langs hom. Haar kop gesak, haar oë grondwaarts. En hy skel haar. Ek weet nie waaroor nie, en ek weet nie hoekom nie. Maar voor almal wat verbystap word sy verneder, gevloek. Deur ‘n man wat dink dis sy reg om dit te doen.

Niemand het die reg om iemand anders te verneder nie. Nie so nie, en ook op geen ander manier nie. Geen mens mag so verneder word nie. Ek het skoon van die rugby vergeet. In die verbystap het ek net gesien hoe ‘n arme mens deur ‘n ander mens met woorde verniel word.

En daar besef ek, daar is te veel mense wat verhewe geraak het bo die spel van menswees. Soos opsetlike skeidsregters oordeel hulle ander en forseer ander om te verloor.

Wie ookal vandag hierdie artikel lees. Moet nooit dat ander jou verneder in die lewe nie, en ja, moet ook nooit iemand anders verneder nie.

Dis nie die reëls van die spel nie.

Ek gee nie meer om of die Vrystaat verloor het nie. Ek lê nie wakker oor die skeidsregter nie. Ek wens net iemand vertel vir daardie arme vrou dat sy die kruisiging nie verdien het nie.

Dat sy lankal gewen het.

Dis mos amper paastyd.

No comments: