Monday, July 07, 2008

Paaseiers van herinnering

Die paasnaweek kuier ons by Suster Lutje en Swaer Theo. En Lutje werk uit dat ons twee kilogram per persoon oor die naweek opgetel het. Sonder om veel te doen. Mens kuier kuier net so, dan is daar hier en daar ietsie te ete – en dan tref mens nie die skaal – of jy wag maar net om die gemiddeld te hoor...en dan word die oordeel gefel.
Intussen het die kinders lekker gespeel. En my laat terugdink aan toe ons nefies en niggies was. Nou is ons ooms en tannies. Dit het vinniger gebeur as wat ek verwag het. Ek onthou nog helder hoe my eie niggie Henriëtte en nefie Jakobus by ons kom kuier het. Aanvanklik was dit poppe vir die dogters en goggas vir die seuns. Daarna het die perdry fase gekom, met Lutje se gevleuelde woorde toe Henriëtte (met die perd op volle vaart) uitroep, “Help ek gaan val”. Lutje se antwoord: “Moenie worry nie die hek is naby.” Asof dit enigsens sou help. Ek dink nie ma en pa het geslaap daardie vakansie nie. Ook nie die vakansie toe ons almal leer karbestuur het nie.
En nog minder ‘n paar vakansies later toe Henriëtte se koms ‘n klomp klasmaats plaas-toe begin lok het nie. Ja, skielik was ons groot. Dit was weermag, universiteit en troues. Toe die verspreiding oor die land. En nou die herinneringe wanneer mens na jou eie kinders kyk wat paaseiers in die tuin soek. Terwyl jy self ietsie eet. En groei.
Dis lekker herinneringe. Maar meer nog. Ek onthou hoe oom Piet (Henriëtte en Jakobus se pa) my kamera help vervang het nadat dit een Desember vakansie op ‘n staptoer saam met Harry Fröhlich-hulle in die see beland het toe ek my met ‘n fratsgolf misreken het. Maar mens is nooit te oud vir herinneringe maak nie. Want dit is net so lekker om te sien hoe ‘n mens se eie kinders opgewonde na paaseiers soek. Dis net so lekker dat my jeugvriend Dawie die perde gaan vang en die kinders op die plaas rondlei – totdat hy ook in ware Henriëtte styl op sy rype ouderdom van die perd afval. Skynbaar moes hy na die naweek by die dokter ‘n draai maak om net te hoor sy ribbe is bietjie gekneus. Op sy ouderdom skynbaar nogal ongerieflik.
En tussen die kneusing en herinneringe besef ek dat elke rol wat ons in die lewe vertolk, of dit Oom, Tannie, vriend of nefie is – die bly ‘n heerlike soektog na paaseiers. Want elke nou en dan vind ons een van daardie waardevolle paaseiers van herinnering.
En dit maak nie eers vet nie!

No comments: