Monday, July 07, 2008

'n Bywoner in ons huis

Die streep flos het dwarsoor die badkamervloer gelê. Tot in die wasbak waar die leë houer die finale getuienis teen Anienie gelewer het. Dit het met grimering begin, en nou is dit tandepasta en flos. As mens jou rug draai kry sy dit beet. En beetkry is die word. Veral met die grimering. Net ‘n bietjie van Arne se lipstiffie en Anienie is rooi soos beet. Gewoonlik ook enige skoon linne of handoeke in die omgewing.

En ek het geen verweer nie. Was dit dan nie my eie pa van in sy wysheid die vraag gestel het: “Wanneer begin kinders om grondboontjies in hulle ore te druk?” nie. En pa het ook die antwoord verskaf: “Wanneer jy sê hulle moenie grondboontjies in hulle ore druk nie”. En ek sien dit nou eerstehands. Die woord moenie is bloot ‘n aansporing. Vir kinders beteken moenie, moenie dit doen terwyl pa of ma kyk nie.
Doen dit as hulle weg is.

Daar is ook ‘n bekende karakter uit my kinderdae wat nou weer verskyn. Sy naam is Nie-ek-nie. Pa en ma het altyd gesê hulle wens hulle kon vir Nie-ek-nie in die hande kry. Elke keer as iets verkeerd loop in die huis en mens vra die kinders wie die skuldige ene was kom die antwoord glad soos spoelklippe:
“Nie-ek-nie.”
My verwondering lê vandag by die vraag wanneer Nie-ek-nie die huis verlaat. Kinders verlaat immers die huis net na skool. Nie-ek-nie verdwyn saam met verantwoordeliheid en die huweliksformulier. Dis die een plek waar mens hom nooit teëkom nie. Verbeel jou, die predikant reken: “Neem jy hierdie vrou as jou wettige vrou om lief te hê … tot die dood julle skei…”, en die bruidegom antwoord: “Nie-ek-nie”. Die Koue Oorlog sal nie ‘n kans staan teen daardie huweliksbootjie nie. Nee, Nie-ek-nie is soos ‘n waterpokkie-virus wat by kleuters verskyn en, wanneer hy wel by grootmense verskyn is daar groot moeilikheid.
Maar daar is geen entstof teen Nie–ek-nie nie.
Ek wonder net hoe mens van hom ontslae raak, hoe lank ek hom nog gaan moet trotseer en waar hy in die huis bly.
Want iemand het om ingenooi by ons huis.
En dit was nie ek nie.

No comments: