Thursday, July 03, 2008

'n Sagte pak slae

Ek kry die versoek verlede week op facebook. Een van my oud-leerlinge, Lida van Zyl, wil weet waarom ek nie in die Sandsteenpraatjies van my dae in die onderwys gesels nie. Komende van Lida verstaan ek dit – sy was in standerd ses. Voor grade standerds geword het, vandag sou sy in graad 8 wees, toe ek haar die eerste keer ontmoet het.

Ek was nog ‘n groentjie onderwyser en ek dink Lida was die eerste persoon vir wie ek strafwerk gegee het. Die resultaat was ‘n opstel waarin sy van “Me, Myself and I” geskryf het. Drie eilandbewoners. Êrens het sy die grammatika “I says to the others” ingebou. En ek merk dit verkeerd. Net om kort daarna deur Lida lastig geval te word. “But sir, it is right”. En ek verduidelik. “Dis ‘I say’ nie ‘I says” nie. Nou sonder om te lank uit te brei – Lida het die argument gewen. Uiteindelik het sy my oortuig dat “I” in hierdie geval die naam van ‘n persoon is, en nie verwys na “I” wat ek beteken nie.
En so sou ek nog baie dinge van die leerlinge leer...
Daar was die humor wat fyn onderhandelinge gebring het. Saam met Anton Oberholzer hulle se seunsklas sou ek een van die snaakste insidente ervaar. Hulle was natgesweet na L.O. en het voor my gesit. Die einde van die kwartaal in sig. Hulle het kruisies op hulle dasse kollekteer. Vir elke rottanghaal op die bas was daar ‘n kruisie. En Anton en kie was op soek na nog kruisies. En ek het seker na ‘n saggeaarde sagslaner gelyk.
Maklike kruisies.
Toe hulle die derde keer gesels, stuur ek Fritz Scheepers om my krom kierierottang by die koshuis te gaan haal. Die gaan haal is al ‘n straf vir Fritz wat papnat gesweet terugkeer. Hy blaas soos ‘n stoomtrein en oorhandig die rottang. Dit moes die potsierlike vorm van die rottang wees wat vir Anton en Jan Oosthuizen die moed gegee het om my nog een keer te tempteer.
En toe is die gort gaar. Ek nooi hulle al drie buitetoe. Hulle gesels nog onder mekaar toe hulle saamstap. Anton buk eerste. Ek hou nie terug nie en swaai die rottang met alle krag en mening. Toe die rottang en Anton se agterstrewe ontmoet vlieg hy regop. Die twee toeskouers ook. Hierdie is nie wat hulle verwag het nie. Fritz en Jan se oë is groot.
“Kom, drie houe, buk weer.”
Anton se gesig is ‘n prentjie. Hierdie is nie die kruisies werd nie. Maar hy buk, sy maats wag. Daarna buk Fritz. Hulle albei stap met stram lywe weg. Net ek en Jan bly oor. Dis op daardie oomblik dat Jan besluit om te probeer red wat te redde is. Toe ek die rottang terugtrek draai hy sy onskuldige gesig na my toe.
Hy kyk na my soos ‘n samesweerder en hy sê gedemp:
“Saggies nou, né.”
Ek kon my lag nie hou nie.
Toe tik ek hom maar saggies.
Ek kon nie anders nie, want as mens lag kan jy dalk mis slaan.

No comments: