Thursday, July 03, 2008

'n Rapport vir pa

Ek het al vergeet dat pa dit altyd laat in die aand uit die sitkamer basuin het wanneer ons na slaaptyd in die kamer lê en klets en baljaar het.

“Kom tot rus!”

Daar was ook ander woorde wat deur die lyne van my kinderjare tot nou syfer. As ons baklei het, het pa dikwels uitgeroep “Skei uit!” Dan was daar ook sy gunsteling as hy sy verbasing oor iets goeds wou uitspreek: “Love a duck!” Alles kort frases wat betekenis en intonasie gehad het, en waaraan mens nie eers dink totdat jou kinders nie tot rus kan kom nie. Dan skielik vang jy jouself uitroep “Kom tot rus!” Met skone verbasing. Het ek dan so vinnig my pa geword? Was dit hoe hy gevoel het toe hy dit uitgeroep het.

En dan kom ander woorde ook terug. Wie onthou nog “Kleine muisies, grote ore” of dat mens nie mag “sit en tande tel” in die grootmense se geselskap nie. En in die koue wintersoggende as ons die bus moes haal om skool-toe te ry, “Rise and Shine!” Met so koue hand in die rug as pa reeds by die stal was, het mens sommer vinnige ge”rise”, maar moeilik ge-“shine”.

En nou is ek die een wat die slapende wesens soggens help wek. Wat “rise and shine” roep, en geen antwoord kry nie. Die wiel het vinnig gedraai. Te vinnig. So vinnig. Dan wonder ek waaroor my kinders eendag gaan skryf. Maar mens hoef nie lank te wag nie. Want verlede week daag Anienie met ‘n graad 3 opstel op. Met Vadersdag in gedagte... En ek sien myself deur die oë van my kind.

“My pa. My pa haat my hond se poef. My pa is snaaks as hy sing in die oggend. My pa kielie my ouma se nek, dan slaan sy hom met haar kierie. My pa het bruin oë. Soos my hond.

So. Daar’s dit. Kort en kragtig, ‘n rapport oor pa-skap. Niks van die dinge wat die wêreld as belangrik ag nie. Maar een ou klagtetjie oor my taak as hondemisopteller, en dit word deel van my rapport...

Maar ek kan ‘n slegte rapport hanteer, veral as dit eindig met: “Ek is lief vir my pa”. Dan staan ek op met ‘n lied in my hart, ja, ek rise and shine!

No comments: