Monday, July 07, 2008

Oor skale en opmerkings

Die skale was op spesiale aanbod. Maar omdat dit goedkoper was wou ek eers seker maak dit werk. Nooit, nie in my wildste drome, het ek gedink ek gaan ‘n skaal moet koop om my maag te monitor nie. Maar hier staan ek nou. En ek soek ‘n elektroniese skaal. Ek wil immers elke gram sien wat ek verloor! My doel is om rofweg 10 kilogram oor die volgende drie maande te verloor sodat ek nie meer soos ‘n model vir die red-die-walvisse veldtog lyk nie.
Die jongman wat my help wys my eers dat die skaal eers getik moet word, dan kalibreer en dan moet ek opklim. Toe ek opklim rek sy oë! En hy kan himself nie keer nie: “Eish!” Dis al wat hy sê. Ek sê vir hom hy moet dit bietjie met die vrouekliënte probeer. Dan sal daar nie sulke lang rye by die kassiere wees nie. Hulle sal voor die bestuurder se kantoor staan en wag om klagtes te lê. Twee van my kollegas is saam. Hulle lag eers, maar besluit toe ook om skale te koop. Dis immers op spesiale aanbod. Louis sê hy gaan dit vir sy vrou koop. Riaan sê hy kan dit nie bekostig nie, maar sy vrou is nou ook al besig om opmerkings te maak oor sy maag.
En dis waarom ek hier is. Oor opmerkings. Of dan eerder aanmerkings. Ek onthou mnr Jan Strydom het ons altyd geleer om nie aanmerkings op die skoolkinders se rapporte te skryf nie, eerder opmerkings. Maar Arné het haar simpatie met my gewigskrisis verloor. En ek kon nie meer nie. Gereeld het sy en skoonma my begin betig. “Trek in jou maag.” “Moenie jou maag so uitstoot nie. Jy’s nie soos Demi Moore wat swanger enige voorblad sal haal nie.” As ek nie reeds besig was om my maag in te trek nie, sou dit my nie so gepla het nie. Maar nou ja. Minstens doen ek nou iets daaraan. En my kollegas vind baat.
Van die mense in die inkopiesentrum het blatant gelag toe ons drie met ons boepense, elk met ‘n skaal onder die arm uitstap. Louis het darem elke keer probeer verdedig met: “Die skale is op special.” Een of twee wou selfs weet waar ons dit gekoop het.
Die uiteinde van die saak is dat ek nou gereed is om teen die begin van die herfs baie lekkerder oor myself te voel. Lig en soepel.
En dan gaan ek weer winkel toe. En weer op die skaal klim. Dan gaan daardie man my weer help. En hy gaan weer eish sê, maar hierdie keer met respek in sy stem…
En iemand anders moet maar vrywilliglik gaan poseer om die walvisse te red. Ek gaan nie meer kwalifiseer nie.
My rapport gaan aanmerkings vir opmerkings verruil!

No comments: