Thursday, July 03, 2008

Trauma by die tandarts

Ek weet van kleins af al dat mens gereeld tandarts toe moet gaan. Dis een van daardie reëls wat ek ongelukkig huiwerig is om na te kom. Die gevroetel met skerp ysters tussen my tande pla my meer as ‘n paar stukkies plaak hier en daar. En elke keer as ek tandarts toe gaan vind hy probleme waarvan ek nie weet nie. En dan moet ek weer gaan. Nee, dan wag ek eerder tot daar in elk geval fout is.

En toe, terwyl ons so wag vir die toegangsbeheer by die ewigdurende padbouery weerskante van Senekal, byt ek ‘n lekker, en my tand breek morsaf. En ek weet voor my siel die tandarts is nou onvermydelik. En so, soos ‘n lam ter slagting eindig ek dan ook in die kliniese stoel met die martelaarslig en die vroetelgereedskap.

Die man fluit amper soos die werktuigkundiges wat my motor diens. So nare fluit wat beteken dit gaan geld kos. En toe spring hy aan die werk. Drie gaatjies reken hy. Hy plaas die hospitaalreuk watte in my mond en toe bring hy die naald. Die naald prik en alles is veronderstel om dood te gaan. Terwyl die tandarts wag vir my mond om te verlam bind hy sulke goete wat soos werkswinkel skroewe lyk aan my voortande vas om my lippe uit die pad te kry. Of so voel dit.

Nie ek of die tandarts was bewus van die ander senuwee wat nie lam geword het nie. En dit was so halfpad deur sy boorproses dat ek in onwillekeurig in die lug in vaar toe die boor en die senuwee ontmoet. Die skroef maak dat ek nie skreeu nie, maar die tandarts besef dat hierdie man wat leviteer sonder om te mediteer seker ‘n rede het, en hy halt.

Toe haal hy twee spuitnaalde uit. Ek moes dit nie sien nie. Sulke groot dikkes. Nou intussen is daar ‘n klomp watte en goeters ook in my halfdooie mond geprop, so ek kan nie eers protesteer nie. Die naaste is die “humph” sug van ans uit die diepte van my siel. Twee spuite later en weer ‘n bietjie wag. En weer mis ons die senuwee. Nou ja, die tandarts respekteer ook die lig bo sy stoel. Die goed is seker duur, so hy wil nie hê syne moet met sy leviterende pasiënt se kop kennis maak nie. Intussen het die afspraaktyd ook verbygegaan. “Meneer, maak asb weer ‘n afspraak, ons sal jou langer moet sien om te verseker alles is doodgespuit.”

Intussen is my mond heel dood van die twee impaknaalde. Ek noem dit impaknaalde want hulle word dan soos impakspelers in rugby aangewend. Om ‘n verskil te maak as dit amper te laat is. Ek wil bly en klaarmaak, teen die tyd is my mond heel dood en die tande seker ook. En as ek nou gaan moet ek weer ingespuit word. DIe tandarts hou voet by stuk. Ek moet ‘n opvolgafspraak maak. Dan kan die mondhigiënis my sommer spuit. Teen die tyd wat ek by hom kom sal die tand dan dood wees.

Nou ja, ek hou nie van tandartsbesoeke nie, maar die afspraak is gemaak. Ek het ook my testament weer versien en koop elke dag vir die kinders lekkergoed sodat hulle my as ‘n goeie pa sal onthou.

Tot hulle eendag op dit tandarts se stoel beland en hy vra wie vir hulle al die lekkergoed gegee het.

No comments: