Thursday, July 03, 2008

Trauma by die tandarts - Deel 2

Ander keer het ek gesels oor die marteling wat ek by die tandarts moes deurstaan omdat my tandwortel geweier het om op die chemie van die plaaslike verdowing te reageer. Om die opvolgafspraak te reël het my ongeveer twee weke geneem. Ek het lank getob, maar toe besef elke dag raak alles net erger.

En so bevind ek my toe weer onder die stoel met die helder lig bo wat mens aan ‘n martelkamer herinner. Die tandarts se strategie was om my hierdie keer eers na die mondhigiënis te stuur, dan kon sy my sommer inspuit en sou die moeilike, ongehoorsame tand reeds gevoelloos wees teen die tyd dat ek by hom aankom. Dit was veronderstel om in teorie te werk – maar die senuwee is ‘n kanniedood en toe die tandarts met sy krapinstrumente begin sien hy dat ek weer so krul in die stoel soos een of ander mishandelde gevangene. Toe hy weer ‘n spuit aanvra maak ek my oë toe, want die vorige keer se spuit kom nou nog snags in my nagmerries met ‘n grynslag voor my staan. Ek voel die prik in die tande en die tandarts verdwyn deur sy deur. Ek wonder altyd waarheen verdwyn die tandartse so as hulle mens klaar gespuit het. Intussen begin my wang stadig doodgaan.

Met sy terugkeer druk die tandarts my lippe met skroewe teen my bokaak vas. Ek sien dit nie, maar ek voel dit. Toe begin hy hy boor dat die emalje (of wat ookal dit is) so spat terwyl sy assistente een van daai agterstevoor tuinslange in my mond druk om enige bietjie speeksel wat weens angs afgeskei word op te vang. Dit voel asof die man vir ewig gaan boor, maar uiteindelik maak hy klaar en begin die teëlsement in sulke lae bo op die tande vas te plak. Die ou emalje en die nuwe teëlsement raak ongemaklik korreltjierig in my mond, en toe die instrumentversameling elkeen hulle dele in my mond gedoen het kan ek my dooie mond uitspoel. Uiteindelik is die oordeel verby. Ek voel hoe die verligting deur my sypel. Dit is egter van korte duur. Die tandarts haal ‘n spieëltjie te voorskyn. “Ek wil jou iets wys. Hierdie tand is gekraak, hy gaan waarskynlik gekroon moet word, maar ons sal maar moet kyk wat gebeur.”

Nou ja. Tans eet ek net pap en sagte kosse. Gelukkig is dit winter en mens kan met sop ver kom. Ek vermy enige harde kos wat dalk die krakie kan laat breek. Ek poog alles in my vermoë om te verhoed dat ek in die volgende jaar weer by die tandarts moet uitkom. Miskien verbeter die tegnologie so dat hulle mens se tande sommer met ‘n laser kan kroon. Of so iets.

Intussen vertel ek vir die kinders hoe goed en gesond dit is om gereeld tandarts toe te gaan. En ek wonder of dit verkeerd is as mens dit nie self glo nie. En dan dink aan aan die ander stories wat ons die kinders vertel, van die Tandmuis en Kersvader. Dan slaap ek rustig.

Totdat daar weer ‘n spuitnaald verskyn!

No comments: