Thursday, July 03, 2008

Gordyne van geloof

Terwyl ek op skoolstories is die afgelope paar weke, is daar een deel van my dae in die onderwys wat ek nooit sal vergeet nie. En dit is die wonderbaarlikheid van ouers. Daar was altyd iemand iewers wat ongelooflike bydraes tot die skool gemaak het. Jinne ek praat van my dae in die onderwys asof dit jare gelede was, en dit was, tog voel dit soos gister.

So besluit ek, kort nadat ek aangestel is, dat ‘n klaskamer sonder gordyne en tafeldoeke maar eintlik ‘n droewige spul is. Ek noem dit vir die kinders dat ons bietjie planne moet maak. Voorwaar, daardie Vrydag is Gerdi Taljaard se ma daar – en sy meet vensters en tafels.

Nou hierdie vrou kón gordyne maak. Sy het toe alreeds die koshuis help mooimaak en die styl en elegansie van daardie koshuis, wil ek my verstout om te sê, het die voorkoms van koshuise oral verander. Nou ja, sy het gemeet en gepas, en is terug Tweeling toe. ‘n Week later het die werk begin.

En my vrees.

Want sien, op daardie stadium het ek so R240-00 in die bank gehad. Die gordynspore alleen het R221.00 gekos. Toe is ek op R19.00 en koshuiskos vir die maand. En daar was nog goed om af te betaal. Nou toe die eerste gordyne opdaag vertel Erica Steyn my dat alles tesame hierdie gordyne seker so rondom R3000-00 sal kos. Daardie nag het ek nie geslaap nie.

Nog ‘n week later kon ek spog met een van die “cosy”-ste klasse in die land. Toe Gerdi se ma klaar is,vra ek vir die rekening. “Daar is geen rekening nie, Meneer.” Dit het so vreemd gevoel dat hierdie wonderlike dame my Meneer genoem het. “Julle doen soveel vir ons kinders.” En met ‘n ferm en vriendelike beslistheid het sy my duidelik laat verstaan dat dit die laaste woord oor die gordyne was.

Vir vyf jaar het daardie gordyne my aangespoor om elke klas te probeer interessant hou – dit was my belofte aan myself – omdat mense soos Gerdi se ma in my as onderwyser geglo het, sou ek elke klas met ywer en entoesiasme aanpak. Want mense wat in mens glo verander jou lewe.

En ja, daar was tye wat dinge in die klas amper skeef geloop het – soos die keer toe ek te veel rookbomme en klappers gegooi het, dit het die tik-eksamen by juffrou Erica Steyn in ‘n slagveld van typpex verander... Maar meer daaroor op ‘n ander keer. Intussen wil ek vra dat as daar enige oud leerlinge is wat nog staaltjies het om te vertel, of hulle dit gerus met my sal deel ...

No comments: