Thursday, July 03, 2008

Skoonma se tande

Die kinderlike optimisme was verstommend. Veral omdat Benno dit met skoonma gewaag het. Hy het ‘n nuwe strategie sedert hy vier tande verloor het. Tandeverloor is besigheid. Dit bring die Tandmuis en geskenke in die prentjie.

En so het sy sesjarige koppie dinge beplan. Toe skoonma weer kyk is haar valstande weg. Sy soek en soek en spoor uiteindelik vir Benno op waar hy daarmee rondloop. Hy besluit onmiddlellik sameswering is die beste vorm van verdediging: “Sjuut Ouma, as die Tandmuis vir my geld bring sal ek dit met jou deel.” Skoonma wil lag en kwaadwees gelyk, maar dit werk nie lekker sonder valstande nie. Dus brom sy maar tussen haar lippe deur: “Gee my fande.” Fande want dit lyk my mens kan nie die “t” in tande sê sonder tande nie.

Benno weier. Optelgoed is vatgoed, en die tande het langs skoonma se bed in ‘n glas lê en niks doen nie. Skoonma se been is seer en sy kan nie met haar kierie vir Benno inhaal nie. Sonder tande kan sy alles doen, maar Benno weet dat dit letterlik ‘n geval is van haar blaf is erger as haar gebitlose byt.

Die twee dwaal tartend en dreigend deur die huis totdat Skoonma moed verloor en op die bed gaan lê. Benno ook op sy bed. Hy wag vir die Tandmuis. Vandag is die dag dat sy skip inkom. En toe moet Benno badkamer toe. Hoekom hy die tande saamgeneem het weet nugter. Maar dit was die bymekaarkom van al die elemente. Valstande, ‘n toiletbak en ‘n kleuter. Dit neem nie veel van ‘n verbeelding om die volgende stap te voorspel nie.

En die gelukkige wenner is ek. Toe ek tuiskom kom Benno grootogig nader. “Pappa, jy moet kom help.” Ek word gelei na die misdaadtoneel waar die tande onder die water uit grynslag. Ek gril en krap met ‘n stok. Benno gril saam, en weier om met sy hande aan die tande te vat.

Eindelik het ons alles uit. Die tande gewas en onstmet en neem dit terug na skoonma. Sy glimlag dankbaar vir my. Tandloos. Sy neem die pas besmette en ontsmette tande. Plaas dit met genoegdoening in haar mond. Sy kyk na Benno. “Jy mag nie ouma se tande vat nie, netnou gaan lê een van die katte daarop of so...”

“Of so,...”dink ek.

No comments: