Thursday, September 21, 2006

Liewe Jesus gee altyd ons goed terug


Ek was een van daardie mense. Vyftig teorieë oor kinders grootmaak en geen kinders nie. En my boeties en sussie kon nie wag dat my kinders kom nie…
Nou het ek twee kinders en geen teorieë nie. Net vrae. My eie, en my kinders s’n. Myne gaan meeste oor hoe om hulle s’n te antwoord.
Vandat die kinders gebore is lees ek: Living and Loving, Dr Spock, Jan van Elfen, Raising Perfect Children, ens ens.
Ek spoedlees om by te bly.
En wanneer die geleentheid kom om hierdie slim teorieë toe te pas, is die teorie of vergete, of is die geleentheid nie reg nie. Ek wens soms ek kon soos die wonderlike Hollywood draaiboeke die regte droomantwoord voorsien en dan wegry teen die sonsondergang. Maar so maklik is dit nie.
Soos die dood.
Daar is al baie geskryf oor hoe om kleuters oor die dood in te lig. Maar hulle vrae kom mos nie net nadat mens die artikel gelees het nie. Dit kom as jy haastig oppad is werk toe, en hulle vinnig by die kleuterskool moet aflaai, en jy allerhande vrae het oor jou eie dag.
Pappa, hoekom gaan mense dood?
Uit die bloute.
En nou begin ek antwoorde soek, maar terwyl ek soek…
Waar is Setla nou?
(Setla is een van die honde wat onlangs dood is – ‘n storie op sy eie).
Ek antwoord maar die beste wat ek kan:
By Liewe Jesus.
Maar sy gee nie bes nie.
En waar is Oupa?
Ek gee maar dieselfde antwoord, dit lyk tog of dit werk…
By Liewe Jesus.
Sy is ‘n kort rukkie stil, en dan:
Nou wanneer gee Liewe Jesus ons goed terug?
Skaakmat.
Ek kan nie eers onthou wat ek geantwoord het nie. Kleuters vrae goeie vrae. En ek soek antwoorde. En toe, verlede week, is dit weer sulke tyd. Een van die maatjies by die kleuterskool se oupa is dood. En ons is oppad huis toe.
Pappaaa…?
As die a op die einde so lank word, weet ek, hier kom ‘n weldeurdagte vraag.
Ja?
Hoe is Charne’tjie se oupa dood?
Nou weet ek, ek moet versigtig antwoord. Sê ek dit was sy hart, dan wonder sy hoekom mens se hart, wat dan goed is so iets doen. Sê ek hy was siek, wil sy weet hoekom hulle hom nie dokter toe gevat het nie. (Ons sê dan altyd sy moet dokter toe gaan as sy siek is) En ek wil nie my kind se vertroue in die genesende vermoë van dokters skend nie. En ek dink. Want ek is mos nou al ‘n slim ouer. Wyd gelees. Ek maak gereed om ‘n antwoord te verskaf wat tot die minste opvolgvrae sal lei.
Dis toe dat Benno, haar boetie (3 volle jare oud), met die antwoord kom. Weldeurdag.
Uit sy karstoeltjie:
Anienie, dit was seker maar ‘n “dinosaur” of ‘n monster of iets.
Ek wag.
Stilte.
Sy is tevrede met die antwoord.
En nou?
Nou wonder ek. Oor lewe, en oor dood, maar meer oor die wonderlike onskuld van kinders. En hoe ek die seer kan weghou solank ek kan. En die valle kan keer. En hulle steeds kan help groei en leer. En alles wat mooi is gee, en oor hoe wys my eie ouers was.
En of Liewe Jesus nie lankal ons goed teruggegee het nie….

No comments: